Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 2 OKTOBER 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.
Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

ʼn GEVORDERDE LISENSIE -‘n INTERESSANTE DEBAT

WAT KAN RADIOAMATEURS MET DIE HF-BAKEN OP CPUT SE CUBESAT DOEN?

JAMMER MAAR JY IS AFGESNY!

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

ʼn GEVORDERDE LISENSIE -‘n INTERESSANTE DEBAT

By die RTA wat verlede naweek in Gauteng se Radiotegnologie-in-Aksie simposium gehou is, is die vraag “Indien Suid-Afrika ʼn gevorderde lisensie kry, hoe moet dit lyk?” aktief bespreek deur die voorsitters en verteenwoordigers van verskeie Gautengse klubs en afgevaardigdes wat die RTA bygewoon het. Die konsensus was “ja”, en die SARL behoort so ʼn saak met OKOSA op te volg by die amateurradiosimposium vir OKOSA-personeel wat vir Februarie 2012 beplan word. Die bespreking het tot die slotsom gekom dat so ʼn lisensie twee hoofdoelstellings moet navolg nl. om meer radioamateurs in tegnologie te betrek en kompetisie tussen radioamateurs in alle aspekte van die stokperdjie te stimuleer. Wat die vereistes vir so ʼn lisensie sou wees het ʼn wye reeks reaksies ontlok en sal sekerlik nog baie gedebatteer word. Daar is ʼn redelike area van ooreenkoms dat dit ʼn eksperimentele grondslag moet hê en nie bloot ʼn akademiese eksamen moet behels nie.

ʼn Geredigeerde weergawe van die debat sal volgende naweek vir aflaai beskikbaar gestel word. Tans is dit 80 minute lank en met so ʼn tipe debat is daar baie herhalings. As jy eers daarna geluister het, lewer asseblief jou kommentaar en voorstelle. Die SARL sal ook ʼn Integnet oor die onderwerp op Sondag 30 Oktober 2011 om 19:30 hou. Klubs wat nie tans hul plaaslike herhaler aan die telekonferensiebrug koppel nie word genooi om te begin reëlings tref. Nadere besonderhede sal in toekomstige SARL-nuusbulletins en die e-posbrief aan lede volg.

WAT KAN RADIOAMATEURS MET DIE HF-BAKEN OP CPUT SE CUBESAT DOEN?

Vrydag het die Kaapse Skiereiland se Universiteit van Tegnologie hul eerste Cubesat bekend gestel, wat by die 62ste Internasionale Astronomiese Kongres wat in die Kaapstad Internasionale Konvensiesentrum later vandag ten toon gestel sal word.

Dit is nie seker wanneer die satelliet gelanseer sal word nie maar wanneer dit eers in ʼn wentelbaan geplaas is sal dit voorsien in interessante eksperimentele aktiwiteite vir radioamateurs. ʼn Artikel wat onlangs in EngineerIT verskyn en wat meer inligting verskaf, kan van SA AMSAT se webtuiste by www.amsatsa.org.za afgelaai word.

Gedurende die week sal daar ook twee Radioamateursateliet voordragte gelewer word “Amateurradio in die ruimte geneem” en “SA AMSAT – 30 jaar geskiedenis van Ruimte-aktiwiteit in Suid-Afrika”. Die voordragte sal volgende week op SA AMSAT se webblad beskikbaar wees.

JAMMER MAAR JY IS AFGESNY!

Ja, ons is jammer dat jy uitgesluit is van toegang tot die “ Members Only “ deel en die Forum en dat jy ook nie die volgende uitgawe van RadioZS sal ontvang nie omdat jy nognie jou 2011/2012 lidmaatskap hernu het nie. Om hierdie toestand om te keer hernu asseblief nou! Indien jy nie seker is nie, stuur ʼn e-pos aan admin@sarl.org.za of skakel Mariska by 011 675 2393.

SARLWEB MAAK VORDERING

Ons maak vordering met die SARLweb. Dit was oor die afgelope week meer stabiel maar nie alle probleme is al opgelos nie en pogings tussen die SARL se span en die IDV gaan voort.

RADIOTEGNOLOGIE-IN-AKSIE 2012

U word uitgenooi om insette te maak tot die program vir die 2012 reeks van Radiotegnologie-in-Aksie se simposiums. Wat is die onderwerpe wat u graag gedek wil sien? Stel u belang om ʼn voordrag te lewer by die 2012 RTA’s? Stuur u voorstelle aan rta@sarl.org.za.

CQ-UITGEWERS GAAN ALLE TYDSKRIFTE IN DIGITALE FORMAAT AANBIED

New York gebaseerde elektronikauitgewer Richard Ross, K2MGA, het aangekondig dat sy “CQ Communications“ multi-platform digitale uitgawes van al hul tydskriftitels voor die einde van 2011 gaan lanseer. Die sluit in “CQ Magazine, CQ VHF, Popular Communications and WorldRadio online”.

Volgens die redaksionele direkteur Rich Moseson, W2VU, sal die digitale uitgawes die gedrukte uitgawes aanvul en nie vervang nie, en sal aanvullings bevat wat nie in die gedrukte uitgawes moontlik is nie. Weergawes sal beskikbaar wees vir aanlyn sowel as mobiele platforms wat insluit PC, Mac, iPhone, iPad, Android 2.0 en hoër.

Voorbeelde van artikels wat moontlik sal wees in die digitale wêreld sluit aanlyn skakels na alle World Wide Web-adresse in wat in elke uitgawe gelys is asook bykomstige inhoud. Hierdie sal insluit toevoegings soos fotoalbums, oudio- en videolêers, sagteware en baie meer.

Die digitale uitgawes van die CQ-publikasies sal Zinio dot com as gasheer hê. Zinio is een van die bekendste name in die e-tydskrif publikasiebedryf. Moseson sê dat CQ se keuse van Zinio sal verseker dat hul tydskrifte altyd voordeel sal put uit nuwe tegnologie soos dit beskikbaar word.

Die digitale bekendstelling sal laat in Oktober begin met die Novemberuitgawe van ʼn verbeterde, multi-platform, uitgawe van WorldRadio Online, wat weer ʼn voorafbetaalde uitgawe sal word. Dit sal gevolg word deur die Novemberuitgawe van CQ, wat, gepas, die tydskrif se eerste jaarlikse “Technology Special“ sal wees. Die Herfsuitgawe van “CQ VHF” en die Desemberuitgawe van “Popular Communications” sal die bekendstellings afrond.

Digitale uitgawes sal beskikbaar wees as enkelkopie en vir intekening. Besonderhede sal in die nabye toekoms in die tydskrifte en alle CQ-Communications se webtuistes beskikbaar wees. Moseson het bygevoeg dat baie CQ-boektitels alreeds in digitale formaat op CD beskikbaar is.

DRAKENSBERGSTAPPERS−AMATEURS OP EN WAKKER

Dinsdag, 27 Sept. het lid nommer een van die Drakensbergstappers, Bart van Dijk, sy knie beseer en om 19:00 is ’n berig na die basiskamp deurgestuur maar die span het nie 'n CASEVAC aangevra nie. Die Woensdagoggendafspraak sou krities wees en weens swak 80 m-toestande die vorige oggend, het basiskamp 'n paar amateurs gevra om by te luister. Die reaksie was oorweldigend. 'n Hele skare amateurs het daardie oggend help luister. Bart, die beseerde stapper, het egter genoegsaam herstel om voort te gaan en alhoewel die stappers effens agter skedule is, is hulle goed op pad na die halfwegpunt.

KLUBNUUS

Centurion Radioamateurklub sal vanaand, Sondag, om 19:30'n tegniese praatjie uitsaai op hulle twee meter herhaler op 145,775 MHz.

Die praatjie vanaand gaan oor: "Voerlyne as aanpastransformators" en beantwoord die onlangsgeplaasde vraag op die SARl-forum nl. "Kan ons 'n antenna aanpas deur die lengte van die voerlyn te verander?" En natuurlik 'n tong-in-die-kies amateurstorie.

Indien jy binne bereik van die herhaler is, kom luister gerus na hierdie baie interessante bespreking aangebied deur Pine, ZS6GST. Rapporteer in indien moontlik.

Die Midlands ARK het hul jaarvergadering op 17 September gehou. By die daaropvolgende komiteevergadering is poste as volg gevul:

Voorsitter en Webblad ZS5ML
Visevoorsitter en Geleenthede ZR5SF
Tesourier en Sekretaris ZS5AZ
Terreinonderhoud en Digitaal ZR5S
Tegnies en Opleiding ZS5EFP
Hamnet en Rampbestuur ZS5DDM

Ons wens die nuwe komitee sterkte vir die jaar vorentoe.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteit hoog was met 'n C9.3 en 'n M1.2 fakkel vanaf sonvlek 1 302. 'n Koronale massauitbarsting het die aarde se magneetveld ontwrig wat van tyd-tot-tyd 'n negatiewe uitwerking op voortplantingstoestande gehad het. Daar is nog steeds 'n moontlikheid van M- en X-klas fakkels vanaf hierdie gebied. Sonvlek 1 305 het gegroei en het nou 'n beta-gamma magnetiese veld wat baie hoë energievlakke huisves.

Vir diegene wat hulle eie frekwensie voorspellings doen, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week ongeveer 80.

20 tot 10 m gaan pret wees met verskeie openinge gedurende die verloop van die dag.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

26 Sept/7 Okt - ZR4CAA en ZS6AA op die lug met die Drakensberg-stapgroep.
8 Oktober - Wes-Rand Amateurradioklub se snuffelmark om 12:00.
15 Oktober – CQ-Hou Koers
15/16 Oktober - "Jamboree on the air".
30 Oktober – Integnet om 19:30 oor gevorderde lisensie
Tot 31 Oktober - ZL-stasies met ZM-voorvoegsels en ZL4RUGBY en ZL6RWC op die lug.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 750 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 18:30 SAT op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Gustav, ZS6BWN.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Ten einde u inskrywing op hierdie subskripsielys te verander of dit daarvan te verwyder, gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.



Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003